TULBAGH, RIJK

TULBAGH, RIJK (1699–1771) het grootgeword in ’n behoeftige militêre familie en is eers op dertienjarige ouderdom skool toe. Drie jaar later tree hy in diens van die VOC* en word ná ’n jaar na die Kaap ge­stuur. Tulbagh het ’n groot pligsbesef gehad en maak vinnig opgang. Op kerklike vlak was hy aanvanklik diaken* en daarna skriba van die Kaapse gemeente*. Op 27 was hy reeds ouderling*. Tulbagh het gou van sekretaris van die Politieke Raad tot onderkoopman gevorder en was op 29 volle lid van die Politieke Raad.

Tulbagh was gretig om die bestaande kennis oor die binneland en die inheemse kultuurgroepe te verbreed en te dokumen­teer. Hy ondersteun gevolglik verkenningstogte van reisigers soos Beutler, Hop en die blinde tuinier Auge om plante en insekte te versamel. Tulbagh het sodoende gereeld plante en opgestopte diere na Europa gestuur. Op administratiewe vlak het hy slawewetgewing gekonsolideer en die Prag- en Praalwette gewysig om by Kaapse omstandighede aan te pas. Hy het ook die vernietigende pokke-epidemies van 1755 en 1767 probeer bekamp.

Vir verdere lees: JF van Oordt 1919. Van klerk tot gouverneur; of het leven en het bestuur van Rijk Tulbagh, Pretoria.

 

Sidebar