TUSSENTOESTAND

TUSSENTOESTAND is tradisioneel ge­sien as die toestand van die “siel” ná die dood* en vóór die finale liggaamlike opstanding* met Christus* se wederkoms*. Hiervolgens skei liggaam* en siel* met die dood. Onder invloed van die Griekse filo­sofie is gesê dat die onsterflike* siel voort­leef terwyl die verheerlikte* liggaam later sal opstaan.

Paulus* se bekommernis dat die we­derkoms ná sy dood sal plaasvind en hy intussen “naak” (sonder ’n liggaam) sal wees (2 Kor 5:3-4), is nie ’n Bybelse bewys van die skeiding tussen die siel en liggaam nie. Johannes*2 sien immers die “siele” van die martelaars* met lang wit klere aan (Op 6:9-11). Hoewel die punt van die gelykenis* van die ryk man en Lasarus* nie oor hemel* en hel* gaan nie, is dit tog ook hieruit duidelik dat ons ewige* bestemming met ons dood bereik word (Luk 16:22-23).

Die mens* is ’n eenheid en kan nie in kompartemente verdeel word nie. Hoe die “tussentoestand” dus sal wees, word nie in die Bybel* verduidelik nie, maar dát gelowiges* ná hulle dood meer in Christus se teenwoordigheid sal deel as hier op aarde, is seker (Fil 1:23; 2 Kor 5:6-8). Martin Luther* het gesê dat gelowiges in Christus se arms sal slaap tot met sy wederkoms.

Sidebar