TUTU, DESMOND MPILO

TUTU, DESMOND MPILO (1931–) is in Klerksdorp gebore. Hy is as onderwyser opgelei en het ’n paar jaar skoolgehou voordat hy die roeping om priester*2 in die Anglikaanse Kerk* te word, ontvang het. Ná sy teologiese opleiding in Johannesburg en Londen, het hy akademiese poste aan die Federal Theological Seminary (Fort Hare) en die universiteite van Botswana, Lesotho en Swaziland beklee, voordat hy as mededirekteur van die teologiese opleidingsfonds van die Wêreldraad van Kerke* na Enge­land verhuis het. In 1975 was Tutu terug in Suider-Afrika, eers as diaken*2 van die katedraal in Johannesburg en toe as biskop* van Lesotho. In 1978 is hy as algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK)* aangewys, en het die werk wat hy as kerkleier en as stryder teen   apartheid* verrig het, onder die aandag van die wêreld gekom. In 1984 is die Nobel-vredesprys aan hom toegeken. In 1985 is hy as biskop van Johannesburg verkies. ’n Jaar later (1986) het die mantel van aartsbiskop van Kaapstad op hom geval. Sy aanvaarding by die Rustenburg-kerkeberaad* van prof Willie Jonker* se belydenis oor apartheid het ’n wye rimpeleffek gehad. In 1995 het pres Mandela* hom aangestel as voorsitter van die Waarheids-en-Versoeningskommissie*. Tutu was die prediker by die begrafnis van dr Beyers Naudé* en het ook opgetree by die begrafnis van Jonker. Vyftig eredoktorsgrade is aan hom toegeken (onder andere van die universiteite van Harvard, Oxford, Cam­bridge, Columbia en Pretoria). Hy is ’n ge­wilde skrywer wie se boeke wêreldwyd gelees word. Onder dié boeke tel Crying in the Wilderness (1982), Hope and Suffering (1983), The Rainbow People of God (1994), An African Prayer Book (1995) en No Future without Forgiveness (1999). In 2006 het hy in ’n versoenende gebaar ingewillig dat sy naam aan dié van Andrew Murray*2 verbind word in die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Christelike en teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, en in 2014 dat dieselfde gebeur met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van die land. (Kyk by: Andrew Murrayprys.) Tutu word onthou vir sy innige geloofs- en gebedslewe, sy warm menslikheid én sy vrolike humorsin. (Kyk ook: Teologie: verskil tussen “Westerse” teologie, Afrika-teologie en Swart-teologie.)

Sidebar