TWEEDE WÊRELDOORLOG

TWEEDE WÊRELDOORLOG. Die oorsake van die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) is minder omstrede as dié van die Eerste Wêreldoorlog*. Die aggressiewe uitbreiding van grondgebied en mag deur die sg Spilmoondhede (Duits­land, Japan en Italië) het hulle as aggressors duidelik geïdentifiseer. In die geval van Duitsland was die Verdrag van Versailles ná die Eerste Wêreldoorlog* bepalend. Die beperkings wat dit op Duitse outonomie geplaas het, het die weg gebaan vir ’n aggressiewe militaris soos Adolf Hitler*. Die paaibeleid teenoor Hitler, soos gedemonstreer deur die Münchense Ooreenkoms van 1938, het Hitler in sy eise gesterk. Sy nie-aanvalsverdrag met Josef Stalin* met die geheime ooreenkoms oor die verdeling van Pole, het die weg gebaan vir die Duitse inval in Pole op 1 September 1939. Brittanje en Frankryk het andersyds weer ’n nie-aanvalsverdrag met Pole gesluit wat alles bygedra het tot die uitbreek van die oorlog op 3 September.

’n Blitsoorlog is onmiddellik aan die wesfront geloods waardeur Duitsland vir Denemarke, Noorweë, België en Nederland op 22 Junie 1940 beset het. Dit was ook die geval met die noordelike deel van Frankryk met lug- en duikbootaanvalle wat op Brittanje geloods is. Joegoslawië en Grieke­land is in April 1941 verower en met Italiaanse hulp is Albanië en Noord-Afrika ingeval. In Junie 1940 het Hitler met Hongarye, Roemenië en Finland se hulp sy bondgenoot Rusland binnegeval. Die Duitse weermag het aanvanklik suksesvol tot by Stalingrad gevorder waar hulle in ’n winter-offensief vasgeval het en daarna stelselmatig teruggedryf is. In Junie 1944 het ’n Westerse geallieerde mag – waarby die VSA in 1941 aangesluit het – in Nor­mandië geland en met die opmars na Berlyn begin. In die Vosgeseberge het die Duitsers nog sterk weerstand gebied wat die Westerse opmars vertraag het. Ameri­kaanse huiwering het verder meegebring dat die Russe Berlyn eerste bereik en die stad beset het. Dit het tot die latere verde­ling van Berlyn gelei. Hitler het selfmoord gepleeg en admiraal Dönitz het op 7 Mei 1945 tot die onvoorwaardelike oorgawe van Duitsland inge­stem.

Japan het intussen op 7 Desember 1941 die Amerikaanse vlootbasis Pearl Harbour aangeval om die mag van die Amerikaanse troepe te breek sodat hy sy dominerende invloed in die sg Oos-Asiatiese Gemeenskaplike Voorspoedstreek kon vestig. Amerika het hierna formeel tot die oorlog in Europa en die Ooste toegetree. Vir die eerste en enigste keer in die geskiedenis het die Amerikaners in Augustus 1945 die atoombom gebruik oor Nagasaki en Hiroshima. Ná die oorlog is daar nooit ’n vredesverdrag met Duitsland gesluit nie omdat die Koue Oorlog die eertydse bondgenote in ’n nuwe stryd gewikkel het.

Die Tweede Wêreldoorlog het lande waar die Christelike geloof dominant was – Duitsland en Italië téén Brittanje en die VSA – teenoor mekaar te staan gebring met skrikwekkende gevolge. Christene het me­de-Christene en ander mense op mas­siewe skaal doodgemaak.Vreemde bondge­noot­skappe is in die proses gesluit en die anti-Christelike kommunistiese* ideologie* het ’n vastrapplek in groot dele van die wêreld gekry. Die Tweede Wêreldoorlog het vir die Christendom geen eer gebring nie.

 

Sidebar