TWYFEL

TWYFEL word dikwels verkeerdelik be­skou as die absolute teenpool van geloof*. Wie twyfel, so word geredeneer, glo nie. Alhoewel twyfel ’n mens wel kan weerhou van geloof, en soms in die vorm van voortgesette ongeloof na vore kan tree, moet ons eerder toegee dat geloof ook twyfel ken. Luther* het geloof getrooste twyfel ge­noem. Daar is iets soos gesonde en ongesonde twyfel, iets soos essensiële en eksistensiële twyfel. Sommige vorms van twyfel is inderdaad wesenlik vir ons verstaan, en veral belewenis, van geloof. Tydens die sg modernistiese era was die neiging, ook in die kerk*, om abso­lute uitsprake oor absolute waarhede te maak. Tans is daar ’n groter begrip vir ons beperkings en ons broosheid. Ons weet nié alles nie, ons ken slegs gedeeltelik. Dit beteken nie dat alle waarheid nou relatief geword het nie. Oor sekere dinge kán ons absoluut seker wees, bv dat God hierdie wêreld liefhet. Ons besef egter tegelykertyd dat God ’n onuitspreeklike Ge­heim is, en dat ons kennis van Hom só beperk is, dat ons eerder met die hand op die mond oor Hom moet praat, met ’n gro­ter versigtigheid en nederigheid. Só word twyfel heilsaam, omdat dit ons ontvanklik maak om meer van God te verstaan.

 

Sidebar