TYDAANDUIDING

TYDAANDUIDING. In die tyd van die Ou Testament* is die dag nie in ure inge­deel nie. Daar is net breedweg ’n onderskeid tussen sekere fases in die dag getref: “vroegmôre”: wanneer die son opgekom het (Gen 19:23); “middag”: die warmste deel van die dag wanneer die son hoog gesit het (Gen 29:7); “agtermiddag”: die laat deel van die middag (Rig 19:8); en “aand”: nadat die son gesak het (Gen 15:17).

In die tyd van die Nuwe Testament* is die dag in twaalf ure verdeel – nie in die moderne sin van die woord as eenhede van 60 minute elk nie, maar as twaalf ongeveer ewe groot dele waarin die dag (dit wil sê solank die son geskyn het) verdeel is. Dit het beteken dat die ure in die somer langer was as in die winter. Die eerste uur het begin wanneer die son opkom en die twaalfde uur het geëindig wanneer die son weer gesak het. Omdat die tydsaandui­dings nie baie spesifiek was nie, is dit nie vreemd dat die tye wat die meeste genoem word die derde, sesde en negende uur is nie (onderskeidelik ongeveer die middel van die oggend, dag en middag). In die gelykenis van die landbouers word al drie hierdie tydsaanduidings gebruik, asook die elfde uur – kort voor sononder (Matt 20:3, 5, 6).

In die Ou Testament is die nag soms in drie wagbeurte verdeel (1 Kron 26:16), en in die tyd van die Nuwe Testament is die Romeinse sisteem gebruik waarvolgens die nag in vier nagwake verdeel is (Mark 13:35).

In die antieke wêreld was daar nie eenstemmigheid oor wanneer ’n nuwe dag begin het nie. Vir die Jode* en die Egip­tenaars het ’n nuwe dag begin sodra die son ondergegaan het. Vir die Jode het die sabbat* bv Vrydagaand met sons­ondergang begin. Vir die Perse, Grieke en Romeine het ’n nuwe dag begin wanneer die son opgekom het.

Vir verdere lees: Verwysingbybel. Band 2. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

 

 

 

Sidebar