UITTOG

UITTOG hou verband met die Griekse* woord exodos en die Latynse exodus. Dit beskryf die gebeure wat te doen het met die Israeliete se redding uit Egipte* op pad na die beloofde land (Eks 19:1; Num 9:1).

Aan die een kant word die uittog as die redding en ontsnapping uit die slawerny* in Egipte (Eks 6:26) uitgelig. Aan die ander kant vorm die uittog die smeltkroes waar­binne die volk van Israel* sy beslag gekry het (Eks 6:6; Hos 13:4). Sodoende verkry die uittog ’n plek in latere belydenisse oor God se groot dade van redding* en verlossing in die verlede (Deut 26:8; 1 Sam 12:8; Ps 105:26-39).

Moses* speel ’n belangrike rol as die leier wat deur God geroep is om sy volk uit Egipte te lei (Eks 3:11-12; 17:3; Miga 6:4). God neem egter ook dikwels self die inisiatief om direk tot die gebeure toe te tree. Die plae* is tekens en wonderdade van God wat die farao* uiteindelik oortuig om Israel te laat gaan en sodoende die uittog te laat aanbreek (Eks 5:1–11:10). Dit is verder van belang om op te let hoe Josua* soos ’n tweede Moses die intog in die beloofde land begin. Daarom vertoon die deurtog deur die Jordaan* talle ooreenkomste met Moses se deurtog deur die Rietsee* (Eks 14:13-14; Jos 3:13-17).

Sommige navorsers dateer die uittog as ’n gebeure wat afspeel tydens die Laat-Bronstydperk (1446 vC) deur 480 jaar terug te reken van die datum van Salomo* se tempelbou af (1 Kon 6:1). Ander navorsers verleen meer gewig aan argeologiese* opgra­wings wat aantoon wanneer sekere dorpe en stede bewoon was of nie. In dié verband dui die Egiptiese Merneptah-stele daarop dat teen 1207 vC Israel reeds inwo­ners van Palestina* was – die uittog moes dan al afgehandel gewees het. Daar is nog geen konsensus oor die datering van die uittog onder navorsers nie, maar die meeste neig in die rigting van ’n later datering (1200–1300 vC).

Geen eenstemmigheid is ook bereik met betrekking tot die roete van die uittog nie. ’n Deel van die probleem is dat daar nog geen Egiptiese bronne gevind is waarin na die verblyf van Israel in Egipte of na die vertrek uit Egipte verwys word nie. Geen argeologiese bevindings kon tot dusver bo alle twyfel die ligging van die voorraad­stede (Pitom* en Rameses*) bepaal wat aan die begin van die uittog ter sprake kom (Eks 11:31-37) nie. Selfs die Rietsee is baie moeilik om geografies vas te pen. Die feit dat die Septuaginta* en die Vulgaat* die Rietsee met Rooisee* vertaal, dui waarskynlik op die generiese gebruik van geografiese name in die Ou Nabye Ooste en nie op die Rooi­see as sinoniem vir die Rietsee nie.

Gedurende die Babiloniese ballingskap*2 (in die 6de eeu vC) word die uittog as metafoor* gebruik om die komende terugkeer na die beloofde land te omskryf met beeldspraak wat ontleen is aan die beskrywings van die uittog (Jes 40:10-11; 43:16-21; 46:3-4).

In die geskiedenis van Suid-Afrika en die bevrydingsteologie* is heelwat gemaak van die uittog om bepaalde politieke oortui­gings uit te spreek (Kyk ook by: Eksodus).

 

Sidebar