UITVERKIESING

UITVERKIESING is een van die leer­stuk­ke van die Christelike geloof* waaroor Christene baie verskil. ’n Mens kan heilshistories na die uitverkiesing kyk. In die Ou Testament* is dit nie indiwidue nie, maar Israel* wat uitverkies is. En hulle is uit­verkies tot diens: om die nasies na Jeru­salem* te lok. Daar is wel van verwerping in die Ou Testament sprake, maar dis nie die nasies/heidene wat verwerp word nie, maar juis die uitverkore volk! Die ballingskap* is die verwerping van Israel* omdat hulle nie hulle roeping uitgevoer het nie (2 Kon 17:18-23; 23:27). En as die Messias* kom, verwerp hulle Hom … en word hulle verwerp: “Die koninkryk sal van julle weggeneem word en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal oplewer” (Matt 21:43). Ook Paulus* skryf dat Israel verwerp is (Rom 11:15).

Dit is egter nie ’n geslote situasie nie. Hulle is die mak takke wat weens hulle on­ge­loof afgebreek is, maar hulle kan weer op die natuurlike stam geënt word as hulle die Messias aanvaar, en die wilde takke wat geënt is, kan weer afgebreek word as hulle nie in die geloof volhard nie (Rom 11:19-24). Heilshistories is uitverkiesing en verwer­ping dus ’n oop situasie.

Die vraag is of Rom 9 ook só verstaan kan word. Paulus worstel met die probleem dat Israel sy Messias verwerp het en die kerk vol (bekeerde) heidene sit. Het God se beloftes aan Israel dus verval? Nee. God is vrymagtig. Hy kies wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil. Hy het Isak* verkies en Ismael* verwerp. Hy het Jakob* verkies en Esau* verwerp. Dit pas Paulus dan op sy probleem toe: God het vrymagtig die heidene verkies en Israel verwerp. Waarom? Omdat die heidene die vryspraak deur die geloof* gesoek het, maar Israel deur wets­werke (Rom 9:30 en volgende verse). Dit is duidelik waarom Israel verwerp en die heidene uitverkies is: dié wat glo, is uitverkies (daarom word die gemeente* die uitverkorenes genoem, Kol 3:12), en dié wat die Messias verwerp, word verwerp. Hierdie boodskap van Paulus word op minstens twee maniere verstaan. Sommige meen dit beteken dat ek op grond van my geloof uitverkies word, maar ander hou vol dat dit op grond van God se besluit is. Maar sy besluit is duidelik, dis nie ’n onbekende, dreigende saak waarin ons maar net vir die beste kan hoop nie.

Dit is nie die enigste interpretasie van die uitverkiesing nie. Daar is ook die sogenaamde TULIP-teologie waarvolgens God mense vrymagtig uitkies en verwerp sonder enige bekende rede. (TULIP is die akroniem vir Total depravity; Unconditional election; Limited atonement; Irresistible grace; Perseverance of the saints.) En daar is die “sagter” vorm waarvolgens Hy wel sekere mense sonder enige bekende rede uitkies, maar die ander mense verwerp weens hulle ongeloof. Hierdie sienings werk sterk met die beginsel van indiwiduele uitverkiesing en verwerping, teenoor die heilshistoriese beginsel wat in terme van groepe dink. Hierdie sienings stel ook verkiesing en verwerping as parallelle begrippe voor, teenoor die heilshistoriese benadering wat verkiesing en diens parallel stel. (Kyk ook: Predestinasie.)

Sidebar