UNIEKHEID VAN CHRISTUS

UNIEKHEID VAN CHRISTUS. Is Jesus Christus* werklik die enigste Verlosser van die wêreld? Is daar geen ánder manier waarop mense gered kan word nie? Wat van dié wat nooit van Hom gehoor het nie, wat nooit ’n kans gehad het om tot geloof te kom nie?

Die afgelope jare is drie standpunte oor hierdie saak gehuldig. Die eksklusiwistiese standpunt gaan van Joh 14:6 uit: Jesus is die unieke en enigste weg, waarheid en lewe – daar is geen ander manier waarop mense gered kan word nie, net deur Hom alleen. Die teenpool hiervan is die universalistiese standpunt wat daarvan uitgaan dat alle godsdienste ewe “goed” is, dat elkeen ’n aanspraak op die waarheid het. Alle gods­dienste is uiteindelik paaie wat na die selfde bergtop lei. ’n Derde standpunt wat veral in Katolieke* kringe gewild is, is die inklusiwistiese standpunt, wat sê dat God in sy groot liefde ook ander mense – vroom en goeie mense soos Mahathma Gandhi* – sal red. Maar dan gebeur dit ook op grond van die soenverdienste van Jesus* wat óók vir hulle (al het hulle dit nie geweet nie) aan die kruis* gesterf het. Die meeste Prote­stantse*, Evangeliese (Kyk by: Evangeli­kaliese) en Pinkster-charismatiese* kerke in Suid-Afrika skaar hulle met verskillende nuanses rondom die eerste standpunt. Natuurlik kan ons nie vir God voorskryf wie gered moet word nie. Hy is die finale Regter wat met gereg­tig­heid* en met liefde* sal oordeel.

 

Sidebar