UNITARIËRS

UNITARIËRS. Unitariste verwerp die dogma* van die triniteit* en die unieke God­heid van Christus*, en pleit vir die radikale eenheid van God. Die eerste spore van hierdie denkrigting kry ons reeds in die tweede en derde eeu nC in die sg modalisme*, wat die Seun* en Heilige Gees* bloot as funksionele modusse van die Vader* gesien het, en die monarchia­nisme* wat die drie Persone van die trini­teit net as “verskynings” van ’n enkele Godheid beskou het. Tog is die Unitariërs primêr ’n produk van die denke wat in die 16de eeu tussen sekere anabaptiste* en renaissancese denkers ontwikkel het. Die belangrikste figuur in dié denkstroom was Faustus Socinus* (1525–1562) wat onder andere die ewige bestaan van die Seun voor die skepping, sowel as die inkarnasie en daarmee saam die twee nature-leer, afgewys het. Hy het ook Anselmus* se satisfaksieteorie – waarvolgens God se wraak op die sonde ’n offer vra van ’n sondelose slagoffer en waarvoor God sy eie Seun as offer sou stuur – betwyfel. Christus se lyding was vir Socinus nie ’n offer om ’n woedende God tevrede te stel nie, maar bloot die dood van ’n buitengewone mens. Latere unitariste (onder andere Voltaire*) het byna almal aan Jesus* net as ’n volledige mens gedink.

 

Sidebar