UTILITARISME

UTILITARISME is ’n benadering tot morele besluitneming wat in die breë kategorie van konsekwensialisme val. Volgens lg is die regte keuse dié een wat tot die beste gevolge lei. In konsekwensialisme word die beste gevolge deur ’n eenvoudige optelsom bepaal: Stel vas tus­sen watter opsies jy moet kies. Bepaal die aantal positiewe en die negatiewe gevolge van elkeen. Kies dan daardie opsie wat die grootste surplus van positiewe oor nega­tiewe gevolge sal meebring. Volgens JS Mill (1806–1873), een van die grondleggers van utilitarisme, is die kriterium vir die bepa­ling van ’n goeie gevolg die mate van be­hoeftebevrediging (oftewel geluk) wat ’n keuse meebring. Hiervolgens is ’n keuse die regte een as meer behoeftes van meer mense oor ’n langer tyd daardeur bevredig sal word as enige ander keuse.

Utilitarisme word dikwels aan skerp kritiek onderwerp omdat dit instrumentele waarde (utiliteit) beklemtoon, en gevolglik die implikasie inhou dat die doel die middele kan heilig. Slawerny of kollektiewe straf, bv, kan geregverdig word as moreel aanvaarbaar – solank die goeie gevolge net meer is as die slegtes. Utilita­risme bly egter ’n wydverspreide benade­ring tot morele besluitneming omdat gevolge wel ’n belangrike morele oorwe­ging is, en kan help om te kies tussen botsende beginsels, reëls of motiewe.

Vir verdere lees: P Pettit 1991. “Conse­quentialism” en RE Goodin 1991. “Utility and the good” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

Sidebar