UYS, PIETER-DIRK

UYS, PIETER-DIRK (1945–) is ’n Suid-Afrikaanse akteur, komediant, satirikus, skrywer en dramaturg, wat in 1981 begin met sy eenmanvertoning Adapt or Die. Hy volg dit op met, onder andere, Total Onslaught, Beyond the Rubicon, Farce about Uys, An Audience with Evita Bezuiden­hout, Live from Boerassic Park, Foreign Aids en Icons and Aikonas. Sy eenmanvertonings skeer veral gek met politieke leiers. Die fiktiewe karakter en Uys se alter ego (“tweede ek”), Evita Bezuidenhout, oud-ambassadrise van die (fiktiewe) tuisland Bapetikosweti, is ’n bekende figuur op Suid-Afrikaanse verhoë en selfs in die parlement.

Uys het digby 50 dramas en verhoogstukke geskryf, meer as 20 boeke ge­pu­bliseer, meer as 40 video’s of rolprente gemaak, en op verhoë oor die wêreld verskyn. Hy tree landwyd op in For Facts Sake, ’n vigs-inligtingsprogram vir skole, onorto­doks en soms omstrede dog doeltreffend.

Sy dramas sluit in Paradise is Closing Down, Panorama, God’s Forgotten, Beyond All Reason, Just Like Home. Onder sy boeke tel Evita Bezuidenhout se biografie A Part Hate A Part Love, asook No One’s Died Laughing en Evita Funigalore. Sy memoirs, Between the Devil and the Deep, het in 2005 verskyn.

Uys, ’n gay man, het talle eerbewyse ontvang, onder meer eredoktorsgrade van die universiteite van Rhodes, Kaapstad, Wes-Kaapland en Witwatersrand. Hy woon op Darling, waar hy gereeld optree in die kabaretteater Evita se Perron. Uys se satire is soms baie skerp, partykeer banaal, en hy dans meermale op en oor die grense van heiligskennis. Maar Uys kap na alle kante en het ’n geregtigheid­sin wat in die Suid-Afrikaanse opset belang­rik is.

Sidebar