VADER, GOD DIE

VADER, GOD DIE. Om God “Vader” (Hebreeus*: Abba*) te noem, is een van die algemeenste en kosbaarste aanspreekvorms wat Christene* vir God het. In sy modelgebed het Jesus* ons self geleer om Hom “ons Vader” te noem. Dit was Jesus se eie voorkeur-aanspreekvorm vir God. Jesus word ook die Seun* van God genoem, en ons kinders van God. In die leer van die Drie-eenheid* praat ons ook van God die Vader en God die Seun (en God die Heilige Gees*).

Juis om hierdie rede is dit opvallend dat, terwyl daar byna male sonder tal in die Nuwe Testament* na God as “Vader” verwys word, dit byna heeltemal afwesig is in die Ou Testament*. Skynbaar hou dit daar­mee verband dat die titel “Vader” in die godsdienste rondom Israel* ’n betekenis gehad het waarin Israel hulle self nie kon vind nie. Die “Vader” van ’n volk/stam was die biologiese verwekker van hulle voorsate by ’n vroulike godin. Daarom was die skeppingsvoorstelling van verwekking en ge­boorte ook algemeen rondom Israel. Maar Israel* gebruik nie die geboortevoor­stelling nie en ook nie die titel “Vader” nie. Hulle is daarvan oortuig dat die mense nie uit gode gebore is nie, maar deur God gemaak is.

Wanneer dié titel later wel hier en daar in die Ou Testament gebruik word, is dit ook nie in die betekenis van die Nuwe Tes­ta­ment van vaderlike sorg nie, maar eerder van gesag wat eerbied afdwing (Mal 1:6 en volgende verse; Jes 64:8). Die menslike vaderfiguur was nie in die Ou Testament in die eerste plek iemand wat omgegee het nie, maar iemand wie se woord wet was

Sidebar