VAEVUUR

VAEVUUR. Die heilige Drie-eenheid* het mense geskep om deel te hê aan die God­delike liefdeslewe deur hulle eenheid met Christus*, die mensgeworde Seun*, die tweede Persoon van die Drie-eenheid* (Ef 1:3-14). Om lief te kan hê, moet ’n mens vry wees, want ’n mens kan nie gedwing word om lief te hê nie, maar moet jou vryelik in liefde* oorgee. Van die begin af het mense soms hulle vryheid misbruik en selfgerig eerder as vrygewig-in-selfoorgawe opgetree. Die mens wat voor die dood* te staan kom, is gewoonlik gedeeltelik selfgesentreerd en gedeeltelik oop vir die liefde, en dus onvolwasse wat die liefde betref. Ná die dood moet die Heilige Gees* volgens die Kato­lieke* teologie* in so iemand werk om dít wat van selfgerigtheid oorbly, uit te suiwer, en die mens aan te vuur om tot sy volle liefdesvermoë te ontwikkel. Die mens moet sy samewerking daartoe verleen, en gebede vir die oorledenes word hierop gemik. Dit is na hierdie “nadoodse mondigwording in die liefde” waarna Katolieke verwys as hulle van die vaevuur praat. Van vroeë tye af (vgl die Apokriewe* geskrif 2 Makk 12:43-45 – omtrent 125 vC) is daar vir die oorledenes gebid. ’n Meer uitdruklike leer oor die vaevuur het sedert die derde eeu stadigaan ontwikkel, soms met nogal dramatiese uitbeeldings daarvan.

Die begrip “vaevuur” kom nie in die Pro­te­stantse* beskouing voor nie

 

Sidebar