VALS LEER

VALS LEER. Volgens Handelinge* het die eerste Christene* onder andere volhard in die leer van die apostels* (Hand 2:42) en het hulle die hele Jerusalem* met hulle leer gevul (Hand 5:28). In 2 Joh 9 word ook ge­praat van die leer van Christus*. Uit die briewe* is dit duidelik dat die apostels se leer dui op die inhoud van die evangelie* van verlossing in Christus Jesus*, terwyl die leer van Christus uit die konteks van 2 Joh te doen het met die inhoud van Christene se leefwyse: om te wandel in die liefde* en die waarheid* as konsekwensie van die geloofsaanvaarding van die apostels se leer. Vals leer is elke leer wat Christus nie verkondig (2 Kor 11:4) as enigste Verlosser nie (Gal 1:7-9) en wat ook nie sy leefwyse as model stel nie (1 Pet 2:21-25; Fil 2:5). Uit die verskillende Nuwe-Testamentiese geskrifte is dit duidelik dat vals leer verskillende gestaltes aangeneem het (Kol 2; 2 Pet 2; 1 Joh 2), maar die kern van elke vals lering het te doen met die aantasting van die een evangelie van geloof* in die verlossing van sonde* uit God se genade* alleen deur middel van en op grond van die kruis* en opstanding* van Christus en ’n lewenswandel in navolging* van Christus.

Sidebar