VALS PROFESIE

VALS PROFESIE. Verskillende definisies van “profesie*” bestaan. Die duidelikste is dat dit ’n uiting is wat deur God geïnspireer is. Dit impliseer dat vals profesieë uitings is met die pretensie van Goddelike inspirasie*, maar wat dit nié is nie. Ver­skil­lende kriteria vir vals profesie word in die Ou Testament* gevind in Deut 13; 18; Jer 23 en Eseg 12:21–14:11. Dit kom daarop neer dat profete* wat nie deur die Here* gestuur is nie en wat geen bevel van Hom ontvang het nie, leuens spreek en die mense bedrieg (Jer 14:14). Daarteenoor beklemtoon Paulus* dat hy die Gees* van God het (1 Kor 7:40) en dat wat hy skryf, nie leuens is nie (Gal 1:20). ’n Uiterste voorbeeld van vals profesie is die simboliese dier uit die aarde of vals profeet van Op 13 wat gelyk het soos die Lam* (beeld van Christus*), maar gepraat het soos die draak (beeld van Satan*, Op 13:2) en so die bewoners van die aarde mislei het (vers 4). Nuwe-Testa­mentiese* profete het onder andere die roeping gehad om die profetiese woorde van ander profete te beoordeel (1 Kor 14:29). Jesus* self het gewaarsku dat daar baie in sy Naam sal profeteer (Matt 7:22) en onder sy Naam sal kom en sê: “Ek is die Christus!” en mense sal mislei (Matt 24:5).

Sidebar