VAN AARDE, ANDRIES GIDEON

VAN AARDE, ANDRIES GIDEON (1951–) word predikant* van die Neder­duitsch Hervormde Kerk van Afrika* en bedien die gemeentes Roodepoort en Fonteindedal tussen 1974 en 1980. In 1980 word hy lektor in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria en in 1984 professor in Nuwe Testament* aan dié universiteit se fakulteit teologie. Van Aarde onderskei homself as akademikus met drie doktorsgrade op die terrein van antieke Grieks*, antieke kultuurgeskiedenis en die Nuwe Testament. Hy lê hom veral toe op teologiese hermeneutiek*, Evangelie*-na­vor­sing en studies oor Jesus* se wonder­werke*, gelykenisse* en die vraag na die “historiese Jesus”*. Internasionaal werk hy mee aan projekte oor die sosiaal-wetenskaplike eksegese* van die Nuwe Testa­ment, narratief-kritiese eksegese van die Nuwe Testament, navorsing oor Matteus* en oor die historiese Jesus. Van Aarde publi­seer Fatherless in Galilee as sy groot bydrae tot die historiese Jesus-navorsing, God-with-us oor die Matteus-Evangelie* en Kultuur­historiese agtergrond tot die Nuwe Testa­ment. Van sy sienings het meegebring dat hy vir meer behoudendes ’n omstrede fi­guur geword het.

Sidebar