VAN ARCKEL, JOAN (JOHANNES)

VAN ARCKEL, JOAN (JOHANNES) (1640–1666) was die eerste geordende pre­dikant* aan die Kaap. Hy is in Den Briel, Nederland, gebore. Van Arckel studeer op koste van die VOC* aan die Universiteit van Leiden, en word in 1664 tot predikant van Oos-Indië beroep. Hy kom in Augustus 1665 in die Kaap aan as die eerste vaste predi­kant van die verversingspos. Tot in daardie stadium is die geestelike werk verrig deur sieketroosters* en predikante wat op pad was na en van Indië.

Van Arckel hou op Sondag 23 Augustus 1665 twee dienste in die groot saal van die Fort de Goede Hoop, en het toe ook agt blanke kinders gedoop. Hy begin dadelik ’n gemeente* organiseer, en bevestig ’n ouder­ling* en diaken*. Op Sondag 14 September 1665 bedien hy die eerste nagmaal* aan die Kaap. Hy begin ook skryf aan die eerste Kerkenboek van de Caap van Goede Hope.

Van Arckel neem in 1666 deel aan die hoeksteenlegging van die Kasteel, maar die volgende dag word hy siek en sterf kort daarna. Hy is in die binneplein van die Kasteel begrawe.

Sidebar