VAN DEN BERGH, REGARDT

VAN DEN BERGH, REGARDT (1952–) is in Johannesburg gebore as seun van die bekende toneelspelers, Gert en Dulcie. Hy was getroud met die aktrise Jana Cilliers, dogter van Bettie Cilliers-Barnard*. Die jong Regardt het reeds tydens sy skoolloopbaan naam gemaak as akteur in die opspraakwekkende rolprent oor Afrikaner-twiste, Die kandidaat. Ná skool gaan werk hy op die Spoorweë om geld te verdien vir sy studies aan die Universiteit van Kaap­stad. Voor die einde van sy tweede jaar word hy ’n rol aangebied in die rolprent Ongewenste vreemdeling en staak sy stu­dies. Hy werk saam met die bekende filmmaker Jans Rautenbach en speel later die hoofrol in die vroeë Afrikaanse TV-reeks Dokter, dokter. Daarna volg verskeie TV- en filmrolle voordat hy in 1980 sy debuut maak as regisseur en talle toekennings inpalm vir sy reeks Vyfster. In 1984 pak Van den Bergh as uitgesproke Christen ’n verbeeldingryke projek saam met die sakeman Charles Robinson aan: Acts. Hierdie vier­uurlange woord-vir-woord-Bybeldrama oor die Handelinge* van die apostels het ’n topverkoper Christelike video in die VSA geword en is onder meer deur Christen-Netwerk* (CNW) in Suid-Afrika uitgesaai. Duisende videokopieë daarvan is jare later nog verkoop. Daarna het ’n soortgelyke projek oor Matteus* gevolg wat in 1994 die lig gesien het.

In die boek Regardt: dis nie luck nie – net genade deur Van den Bergh saam met Danny Fourie (2015), vertel hy van sy twee mislukte huwelike en drankprobleem. Hy het tot bekering gekom toe hy op ’n Sondag gevoel het dat hy “’n  gat in sy siel” het, en by Rhema se kerk ingestap het net toe Ray McCauley* van die preekkateder sê: “If there is anyone with a hole in his or her soul, Jesus can fill it. Put up your hand.” “Onwillekeurig skiet my hand op en ek hou my hand daar en McCauley vervolg: ‘Give your life to Jesus today.’”

Sidebar