VAN DEN HORST, EVERT JEAN JACQUE

VAN DEN HORST, EVERT JEAN JACQUE (1875–1958) is op Jamestown gebore en het eers vir onderwyser studeer. Vervolgens is hy Stellenbosch toe waar hy in 1900 as predikant* gelegitimeer is. Hy is daarna na Howick in Natal waar hy in die konsentrasiekamp geestelike werk gedoen het. Aan die einde van die Anglo-Boere­oorlog* is hy as skoolhoof op Bloemhof aangestel, maar in dieselfde jaar het hy ’n beroep na Wolmaransstad aangeneem. In 1915 is hy op aandrang van ’n groot deel van die gemeente tot volksraadslid vir Wolmaransstad verkies terwyl hy terselfdertyd ook as gemeentepredikant aangebly het. Hy was ook verantwoordelik vir die stigting van die CNO*-skool op Wolmarans­stad. In 1925 het hy op aandrang van die minister van arbeid die pos as superinten­dent van die Hartbeespoortdam-skema aanvaar en in 1929 is hy in beheer van die hele land se skemas geplaas. In daardie tyd het hy ’n groot aandeel gehad in die totstandkoming van die departement van volkswelsyn.

Sidebar