VAN DEN VONDEL, JOOST

VAN DEN VONDEL, JOOST (1587–1679) was in Nederland se glorietydperk ’n voor­aanstaande liriese, epiese en dramadigter, en ’n uitnemende prosaïs. Ná omswerwings vestig hy hom in Amsterdam waar hy ’n winkeleienaar word. Vondel het aanvanklik bekend geword as treurspeldigter. Hy is beheers deur die idee van die tragiese, vir hom wesenlik deel van die Christelike lewensiening. Aanvanklik as entoesiastiese Doopgesinde, en ná 1641 as toegewyde Kato­liek*, is Vondel sterk geïnspireer deur die Bybel* en die teologie*, en het hy talle dramas oor Bybelse onderwerpe geskryf: Joseph in Dotham (1640), Jephta (1659), Adam in Ballingschap (1664), Noah (1669). Maar hoewel Vondel se dramatiese digwerk baie indrukwekkend is, was hy tog allereers ’n liriese digter van formaat met geleent­heidspoësie, lof-, treur- en troossange waaruit sy medemenslikheid en meelewing met ander blyk. Vondel was ook ’n hekeldigter van naam. Sy didaktiese liriek en epiek het klassiek geword, soos sy Koning Davids Harpzangen (1657), ’n barok-psalmberyming, en sy Katolieke didaktiese poësie soos Altaergeheimenissen (1645) en Heerlyckheit der Kercke (1663).

Vir verdere lees: F Kuiper 1959. “Vondel” in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie, deel 6. Kampen: JH Kok.

Sidebar