VAN DER COLF, ADRIAAN PETRUS (ATTIE)

VAN DER COLF, ADRIAAN PETRUS (ATTIE) (1932–2002). Nadat dié gebore Suidwester sy BA aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, hou hy vir ’n jaar skool op Steynsrus en keer daarna terug om teologie* te studeer. Hy begin sy bediening in 1961 te Suid-Rand; daarna volg Blinkpan. Hy werk vir ses jaar by die Inligtingsdiens van die NG Kerk* van Transvaal. Van 1977 tot met sy aftrede in 1995 is hy predikant van Linden en dien ook in die moderatuur van die Suid-Transvaalse sinode*. Hy verwerf D Litt et Phil in 1977 aan die Randse Afri­kaanse Universiteit. Van der Colf is by uitnemendheid die digter-predikant wat vaar­dig skryf. So skryf hy Daadchristene gevra (oor Jakobus, 1980), Geloof maak jou ’n wenner (oor Hebreërs, 1989), Lig en lewe 1989 en meer. Sy groot gawe aan die kerk is sy talryke berymings, onder andere 126 omdigtings in die Liedboek van die kerk (2002). Van die bekendstes is “Genade, onbeskryflik groot” (Lied 510), “o Heer my God, as ek in eerbied wonder” (Lied 464), “Wees stil en weet: Ek is die Heer” (Lied 519) en “Praat ek mense-, eng’letale” (Lied 530). In 1990 kry hy vir die bevordering van Afrikaans* op godsdienstige terrein die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Sidebar