VAN DER HOFF, DIRK

VAN DER HOFF, DIRK (1814–1881). Ná teologiese studie aan die Universiteit van Leiden ontvang Van der Hoff  ’n beroep na die “… uitgewekene en onafhankelijke Afrikaansche Hollanders, benoorden de Vaalrivier in Zuid-Afrika …” waar die eerste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Her­vorm­de Kerk in Transvaal, wat op 8 Au­gus­tus 1853 die eerste keer gekonstitueer het, hom by dié geleentheid as leraar erken met die hele Transvaal as sy werkkring. In ’n grootliks ongevormde pioniersgemeenskap was hy geroep om op sowel kerklike, staatkundige, onderwys- en maatskaplike gebied leiding te gee en baanbrekerwerk te verrig. Van der Hoff het ’n betekenisvolle aandeel gehad aan die skryf en aanvaar­ding van ’n eerste grondwet vir die Zuid-Afrikaansche Republiek, die aanlê van Pretoria as hoofstad, die ontwerp van die Vierkleur as vlag, die Vlaggelied as soort volkslied en die ordening op onderwysgebied. Op die Transvaalse kerklike werf, as die leraar van die oorblywende onafhanklike gedeelte van die Voortrekkerkerk, het hy groter orde gebring. As enigste predikant van die kerk tot 1861 het hy die eerste “voorlopige” Kerkwet in 1857 opge­stel en daarna het hy meegewerk aan die eerste amptelike Kerkwet van 1862 en die hersiene Kerkwet van 1869.

Vir verdere lees: SP Engelbrecht 1953. Ge­skiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Pretoria-Kaapstad: De Bussy.

Sidebar