VAN DER KEMP, JOHANNES THEO­DORUS

VAN DER KEMP, JOHANNES THEO­DORUS (1747–1811) studeer aan die Uni­versiteit van Leiden, voltooi nie sy studie nie en leef ’n losbandige lewe. Ná ’n tyd in die leër bekwaam hy hom in 1782 as mediese dokter in Edinburgh, daarna praktiseer hy in Middelburg en Zwijndrecht. Godsdiens is vir hom niksseggend, maar toe sy vrou en dogter op 27 Julie 1791 voor sy oë verdrink, kom hy tot bekering*. In 1798 word hy as sendeling* van die Londense Sendingge­nootskap (LSG)* georden, en vertrek na die Kaap om ’n sendinggenootskap te stig. In 1799 reis hy en sy gevolg na die Oosgrens om geestelike werk te doen en bots in Graaff-Reinet met die boere weens sy siening dat die Khoekhoen* (Hottentotte) ’n uitgebuite volk is wat beroof is van grond, status en die reg om hulle arbeid aan te bied of terug te hou. In 1803 skenk die Kaapse regering ’n stuk grond aan hom vir ’n sendingstasie, hy noem dit Bethelsdorp, maar dit word nie suksesvol bestuur nie. Hy trou in 1806 met ’n slawemeisie, Sara, en hulle het vier kinders. Afgesien van sy sendingywer, was hy ’n merkwaardige taalkenner wat minstens tien tale goed kon beheers, ook Xhosa* en  Khoekhoens.

Vir verdere lees: IH Enklaar 1988. Life and Work of dr J Th van der Kemp. 1747– 1811. J du Plessis 1911. A History of Christian Missions in South-Africa. AD Martin 1931. Doctor Van der Kemp. DW Krüger (red) 1972. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 2. Pretoria: RGN.

 

Sidebar