VAN DER LINGEN, GOTTLIEB WILHELM ANTONY

VAN DER LINGEN, GOTTLIEB WILHELM ANTONY (1804–1869) is gebore as seun van sendeling*-ouers en bekwaam hom vir die bediening in Utrecht, Nederland. Hy word in 1831 predikant van die Paarl-gemeente.

Van der Lingen was besonder toegewyd en geliefd in sy gemeente, maar het ook teenstand gekry vanweë sy erns­tige prediking teen sonde*. Hy was ’n kamp­vegter vir die Kweekskool*, maar bedank die professoraatskap wat hom aangebied is. Hy het sterk standpunt ingeneem teen teologiese modernisme*. Van der Lingen was geen voorstan­der van staatskole nie, want volgens hom was opvoe­ding en onderwys die taak van die kerk*. Hy stig die Paarl-Gimnasium groot­liks uit eie fondse. Hy het ’n simpa­tie­ke houding teenoor die Voortrekkers* gehad en die Hollandse taal en kultuur was na aan sy hart.

Van der Lingen het tydens ’n gebeds­week tussen Hemelvaart*dag en Pinkster*­sondag 1861’n besondere geestelike erva­ring gehad wat aanleiding gegee het tot die NG Kerkfamilie* se jaarlikse Pinksterbidure*.

Hy was in baie opsigte eksen­triek en onprakties. Hieronder tel sy aandeel in die mislukte ontginning van ’n kopermyn in Namakwaland en die bus­diens wat hy tussen Wellington en Kaap­stad probeer instel het om treine te boikot wat ook op Sondae geloop het.

Vir verdere lees: MCS Kitshoff 1972. Gottlied Wilhelm Antony van der Lingen. Kaapse predikant uit die negentiende eeu. Groningen: DTh-proefskrif.

 

Sidebar