VAN DER MERWE, ABRAHAM JO­HANNES

VAN DER MERWE, ABRAHAM JO­HANNES (AJ) (1897–1978) is op Koppies­kraal in die distrik Calvinia gebore, behaal MA met lof aan die SA Kollege in Kaapstad (die latere Universiteit van Kaapstad), studeer teologie* aan die Kweekskool* op Stellenbosch, en promoveer in 1925 aan die Rijksuniversiteit van Utrecht met ’n proefskrif oor die sondebegrip in die Engelse evolusionistiese wysbegeerte. Hy word in April 1926 predikant van die NG Gemeente Kaapstad (die Groote Kerk) en bly dit tot met sy aftrede veertig jaar later. Hy is deur die Kaapse sinode* van die NG Kerk* vyf keer tot moderator* gekies, en by die historiese eerste Algemene Sinode van 1962 was hy die moderator. In 1952, met die driehonderdste viering van Jan van Riebeeck* se koms na die Kaap, was hy voorsitter van die sentrale feeskomitee. Van der Merwe was lid van die NG Kerk se afvaardiging na die Cottesloe-kerkeberaad* aan die einde van 1960 toe kritiese besluite oor die apartheidsbeleid* geneem is. Hoewel Van der Merwe voorsitter was van die daaropvolgende Kaapse sinode wat dié besluite afgewys het, het hy deur die jare ’n meer kritiese houding teenoor die destydse regeringsbeleid ingeneem as sommige van sy tydgenote. ’n Dissident* was hy egter nie.

 

Sidebar