VAN DER MERWE, JOHAN DAVID GERHARDUS

VAN DER MERWE, JOHAN DAVID GERHARDUS (1926–2018) het op Stellen­bosch studeer en is in 1950 gelegitimeer. Hy behaal twee doktorsgraade: in sosiologie en sielkunde. Van der Merwe is in 1951 as gemeenteleraar in die NG gemeente Yster­plaat bevestig, word later organiserende sekretaris van die Nasionale Raad vir Huweliksvoorligting en in 1960 sielkundige van die Transvaalse NG Kerk*. Hy word in 1962 dosent aan die NG Kerk se Hugenote Kollege* op Wellington, en in Julie 1968 rektor van dié kollege. Van der Merwe werp alles in die stryd om die kollege, wat opleiding gebied het aan maatskaplike, jeug- en sendingwerkers, by ’n universiteit ingeska­kel te kry. Uiteindelik het die kollege ’n universitêre tuiste by Unisa gevind, wat later, in die nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika, prysgegee moes word. Hy was begeester met die ideaal dat die vrou in kerklike opset volledig tot haar reg moet kom, en het die kollege as werktuig gesien om dit te laat gebeur. Die totstandkoming van Bybelkor*, aanvanklik as afde­ling van die Hugenote Kollege, was ook Van der Merwe se breinkind. In 1978 word hy professor in kliniese sielkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en in 1984 pastorale sielkundige van die kerk in die destydse Suidwes-Afrika. Van der Merwe, ’n skeppende denker, was in sy fleur sy kerk in belangrike opsigte vooruit.

Sidebar