VAN DER MERWE, NICOLAAS JO­HAN­NES

VAN DER MERWE, NICOLAAS JO­HAN­NES (1888–1940) is op Senekal gebo­re. Gedurende die Anglo-Boereoorlog* was hy saam met sy ma in die konsentrasie­kamp op Norvalspont. Hy slaag daarna sy matriek op Grey-kollege in Bloemfontein, verwerf sy BA en hou vir twee jaar skool. In 1910 meld hy hom by die Teologiese Kweekskool* aan. Gedurende sy tyd op Stellen­bosch reël hy gereeld taalfeeste. Ná sy stu­die is hy vir twee jaar reisende sekretaris van die CSV* voordat hy in 1915 na Wepener beroep word. Hy beywer hom vir die vertaling van die Bybel* in Afrikaans*. In 1921 promoveer hy aan die Vrije Uni­versiteit* van Amsterdam oor die sosiale pre­diking van Jesus*, en word predikant van Theunissen. In 1924 verlaat hy die preekstoel en word volksraadslid vir Win­burg. Hy was een van die leidende figure in die stryd om ’n eie volkslied en landsvlag. Hy beywer hom vir die totstandkoming van die Helpmekaar en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) – waarvan hy lank die voorsitter was. Hy veg om die gewetenskousule wat op universiteite van toepassing is, geskrap te kry. Hy is stigter van die Calvinistiese Bond en ook stigter en eerste hoofleier van die Voortrek­kerbeweging. Dit is hy wat aan dié bewe­ging hulle leuse, “Hou koers”, gegee het.

 

Sidebar