VAN DER MERWE, WILLEM JACO­BUS (WILLIE)

VAN DER MERWE, WILLEM JACO­BUS (WILLIE) (1906–1989) is in Ceres-distrik gebore. Op sesjarige ouderdom het hy reeds sy sendingroeping ontvang. Hy het aan die Kweekskool* op Stellenbosch, te Princeton en aan die Kennedy School of Missions studeer. In 1934 het hy sy doktorsgraad met ’n proefskrif oor die ontwikke­ling van sending*gesindhede in die NG Kerk* verwerf. Van 1934–1959 was hy werksaam in die destydse Masjonaland, onder andere as prinsipaal van die Teologiese Skool op Morgenster*. In 1959 is hy as hoog­leraar in sendingwetenskap* aan die Uni­versiteit van Stellenbosch aangestel. Vir etlike jare was hy voorsitter van die Federale Raad van NG Kerke en ook van die Suid-Afrikaanse Werkgemeenskap vir Sen­dingwetenskap. Ná sy aftrede het hy rektor en dosent aan die Teologiese Skool Oru­mana, Namibië geword. In sy hart het Van der Merwe altyd “sendeling” in die beste sin van die woord gebly, ook toe hy later jare akademiese poste beklee het. Hy is die skrywer van talle boeke en brosjures, waaronder sy handboek vir sendingwetenskap, Gesante om Christus wil. In 1985 het hy ’n eredoktorsgraad in teologie van die Universiteit van Stellenbosch én in 1986 die Totiusprys* vir Teologie en Bybelse Tale van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, ontvang. Op 20 Desember 1989 het hy in ’n motorongeluk gesterf.

Sidebar