VAN DER ROSS, RICHARD ERNEST

VAN DER ROSS, RICHARD ERNEST (1921–) is in ’n sinkhuisie gebore as die seun van David van der Ross – in 1925 slegs die derde bruin Suid-Afrikaner wat ’n BA-graad aan die Universiteit Kaapstad verwerf het.

Nadat Van der Ross BA, MA (Filosofie) en BEd behaal het, verwerf hy bekendheid as onderwysman, eers as onderwyser in Grassy Park, later as hoof van die Batswood-Kollege in Wynberg, as skoolinspekteur, as hoof van die Early Learning Centre vir gestremde leerders in Athlone, en vanaf 1975 as rektor van die nuut gestigte Univer­siteit van Wes-Kaapland (UWK), waar hy direk in die spervuur van die anti-apartheidstryd in Suid-Afrika te staan gekom het.

Van der Ross was in ’n stadium redakteur van die Cape Herald en ook stigterslid van die Arbeidersparty. Later was hy buitelandse ambassadeur vir Suid-Afrika en politieke verteenwoordiger van die Demokratiese Alliansie (DA). Ná sy aftrede lê hy hom toe op die opteken van veral die geskiedenis van slawe en bruinmense.

Eredoktorsgrade is deur die universiteite van Suid-Afrika (DEd), Kaapstad (LLD) en Stellenbosch (DPhil) aan Van der Ross, be­kend as gematigde denker, toegeken.

 

 

 

Sidebar