VAN DER SPUY, PETRUS

VAN DER SPUY, PETRUS (1722–1809), die eerste Suid-Afrikaans-gebore predikant*, is op agtjarige ouderdom deur sy ouers na familie in Rotterdam gestuur waar hy die beroemde Erasmiaanse Skool bygewoon het. Ná voltooiing van sy teologiese studie in Groningen en Leiden, keer hy in 1746 na sy geboorteland terug as leraar van die gemeente Kaapstad.

Op 8 April 1752 lewer Van der Spuy in dié hoedanigheid die feesrede in die Moe­derkerk in Kaapstad tydens die eeufeesherdenking van die Nederlandse nedersetting aan die Kaap. Die volgende jaar is hy na Drakenstein verplaas. Sy bediening daar het ’n ongelukkige afloop gehad met ’n twis gedurende 1771 in die gemeente. Van der Spuy bly aanvanklik neutraal, maar is later gedwing om op te tree deur die beswaardes onder sensuur te plaas waarna ’n klag van pligsversuim teen hom ingedien is, maar die politieke raad en die Kaapse klassis be­vind dat dit ongegrond was. Die langdurige stryd het hom egter uitgeput en hy aanvaar in 1781 sy emeritaat, waarna hy hom op Stellenbosch vestig.  Van der Spuy is op 19 Januarie 1783 op sestigjarige leeftyd met Maria Elizabeth Adleda getroud, vir wie hy in 1746 as baba gedoop het.

Vir verdere lees: SP Engelbrecht 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad, Pretoria: HAUM-JH de Bussy.

Sidebar