VAN DER STEL, SIMON

VAN DER STEL, SIMON (1639–1712) die seun van Adriaen van der Stel en Maria Lievens, is op see tussen Batavia en Mau­ritius gebore. Hy is in Oktober 1663 met Johanna Jacoba Six uit ’n welvarende en invloedryke familie getroud. Hulle raak egter vervreemd en toe die Here XVII* vir Van der Stel in Maart 1679 as kommandeur aan die Kaap aanstel, is hy sonder sy vrou  daarheen en hulle het mekaar nooit weer gesien nie. Aan die Kaap was Van der Stel ’n kampvegter vir die koloniste se geestelike behoeftes. Nadat hy Stellenbosch, wat in 1679 deur hom gestig is, in Oktober 1686 besoek het, het hy opdrag gegee dat ’n kerk daar gebou word.

Met die Hugenote* se koms in 1688 na die Kaap, het Van der Stel moeite gedoen om in hulle materiële en geestelike behoef­tes te voorsien. In Oktober 1688 word hy deur die Huge­no­te-predikant, Pierre Si­mond*, verge­sel op ’n besoek aan Stel­len­­bosch en Draken­stein om eiendom­me aan die vlugte­linge toe te ken. Van der Stel tref ook reëlings vir die in­diensneming van Paul Roux as voorleser en skoolmeester vir die Hugenote. Daar het egter spoedig wrywing en wantroue tussen Van der Stel en die Hugenote ontstaan, en toe hulle in November 1689 ’n eie kerkraad versoek, weier hy, hoewel dit later deur die Here XVII toegestaan is.

Tydens Van der Stel se goewerneurskap is Oosterse opstandelinge deur die VOC* uit Batavia na die Kaap verban: waardeur die Islam* amptelik na Suid-Afrika gebring is. Een van die belangrikste aankomelinge was sjeik Joesoef*, wat die middelpunt van die Islam-gemeenskap aan die Kaap gevorm het. Van der Stel gaan woon ná sy aftrede in 1699 op sy plaas Constantia, waar hy ook oorlede is. Hy is in die Groote Kerk in Kaapstad begrawe.

Vir verdere lees: AJ Böeseken 1964. Simon van der Stel en sy kinders. Kaapstad: Nasou.

 

Sidebar