VAN DER STEL, WILHELM ADRIAEN (WILLEM ADRIAAN)

VAN DER STEL, WILHELM ADRIAEN (WILLEM ADRIAAN) (1664–1733), die oudste seun van Simon van der Stel*, het sy pa in 1679 na die Kaap vergesel. Willem keer egter kort daarna na Nederland terug en bly ná sy huwelik met Maria de Hase in 1684 in Amsterdam.

In 1699 volg Willem sy pa as goewerneur op en reeds die volgende jaar vestig hy die eerste boere in die Land van Waveren (Tulbagh). Dit het 43 jaar later tot die stig­ting van die nuwe Roodezandt-gemeente by die latere Tulbagh gelei. Willem Adriaan se bewind aan die Kaap is gekenmerk deur ’n stryd met die vryburgers. Dit is grotendeels meegebring deur sy uitgebreide boerdery-bedrywighede op sy plaas Vergelegen by die huidige Somerset-Wes waardeur hy ’n be­langrike konkurrent van die vryburgers geword het. Magsmisbruik deur hom en van sy ampte­nare was ook vir die vrybur­gers onaanvaarbaar en hulle stuur in 1705 ’n klagskrif na die Here XVII. Van der Stel en sommige van die amptenare is uiteindelik na Nederland teruggeroep waar hy hom in 1708 in Lisse gevestig het.

Skynbaar het Van der Stel ’n belangstelling in Islam* gehad, want volgens Valen­tijn* se reisverhaal was die verbanne koning van Tambora op Vergelegen besig om die Koran* vir Van der Stel te kopieer. Hyself het eredienste in die Kaapse gemeente bygewoon

Vir verdere lees: AJ Böeseken 1964. Simon van der Stel en sy kinders. Kaapstad: Nasou.

 

Sidebar