VAN DER VEN, JOHANNES ANTONIUS (HANS)

VAN DER VEN, JOHANNES ANTONIUS (HANS) (1940–) behaal in 1973 ’n PhD in praktiese/empi­riese teologie* (Nijme­gen), en in 1998 ’n eredoktorsgraad in teologie van die Universiteit van Lund in Swede. In 1968 word hy mede-professor in praktiese/empiriese teologie aan die Kato­lieke Univer­siteit Nijmegen, in 1980 professor en in 1999 voorsitter van die dekane­komitee van die teologiese fakulteite in Nederland. Hy was buitengewone professor in praktiese teologie by die Universiteit van Suid-Afrika (1997–2004) en president van die Inter­national Academy of Practical Theology (1995–1997).

Van der Ven is ’n prominente internasionale praktiese teoloog. Hy het meer as 250 wetenskaplike artikels en boeke geskryf waarvan talle in tien tale verskyn het – van Nederlands tot Arabies. Hy is die vader van grondige empiriese ondersoeke in die praktiese teologie. Sy bydrae vanuit hierdie benadering (empiriese teologie) strek wyd en diep in die volgende velde: geloof in God, godsdiens* en kerk* in verhouding tot die moderne samelewing en sy prosesse van indiwidualisering, pluralisering, sekularisering en multi-kulturalisering, en de­mo­kratisering gebaseer op menseregte*.

Vir verdere lees: JA van der Ven, JS Dreyer en HJC Pieterse 2004. Is there a God of Human Rights? The Complex Relationship between Human Rights and Religion. A South African Case. Leiden, Boston: Brill.

 

Sidebar