VAN DER WATT, JAN GABRIËL

VAN DER WATT, JAN GABRIËL (1952–) studeer teologie* aan die Universiteit van Pretoria. Hy behaal DD in 1986 en D Litt (Grieks*) in 1999. Beide doktorsgrade word met onderskeiding gemerk. In albei proefskrifte spits hy hom toe op aspekte van die Evangelie van Johannes*. Van 1980 af tot 1985 doseer hy teologie aan die Universiteit van Fort Hare. In 1986 word hy professor in Nuwe Testament* aan die Teologiese Fakul­teit (NG Kerk*) van die Universiteit van Pretoria, en vanaf 1993 is hy departementshoof. Hy is ook verbonde aan die Christian Uni­versity of St Petersburg. As uitstaande navorser ontvang hy beurse by die Raad vir Geesteswetenskaplike Na­vorsing en die Alexander von Humboldt-stipendium en die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is aan hom toegeken. In 2005 ontvang hy van die Duitse Navorsings­gemeenskap die elite-toekenning Mercator International Scholar. Vir jare is hy voorsitter van die Nuwe-Testamentiese Werkge­meenskap SA. Hy word ook hoofredakteur van die Review of Biblical Literature,’n subredakteur van De Gruyters’ International Encyclopedia of the Bible and Its Reception en senior redakteur van die Oxford Dictionary of the Bible and Ethics. Hy dien as mederedakteur van die Interliniêre Bybel – Grieks/Afrikaans, ’n unieke “eerste” in Afrikaans* en een van min soortgelyke publikasies in die wêreld.  In Suid-Afrika ontvang hy die prys vir die beste Christelike pu­blikasie van die Chris­telike Boekhan­delaarsvereniging vir sy aandeel in Die Boodskap. Vir die Bybellennium en Die Bybel A–Z ontvang hy saam met ander die Andrew Murrayprys*.

In 2016 is Van der Watt professor aan die Radboud-universiteit in Nijmegen, Nederland, en buitengewone professor in Nuwe Testament, Noordwes-universiteit, Potchefstroom

Sidebar