VAN DER WATT, PHILIPPUS BLIGNAUT (FLIP)

VAN DER WATT, PHILIPPUS BLIGNAUT (FLIP) (1937–) is in Theunissen as een van ’n tweeling gebore. Sy tweelingbroer, Louis, sou later medikus en politikus word. Van der Watt het na die universiteite van die Oranje-Vrystaat en Stellenbosch gegaan om hom as predikant te bekwaam. Hy het as predikant die NG Kerk*-gemeentes Amalia 1962, Bloemhof 1964, Bloemhof-Oos 1965 en Vrede-Wes 1967 bedien. Hy promoveer in 1968 aan die Universiteit van Stellenbosch onder TN Hanekom* met ’n proefskrif getiteld: Die Loedolff*-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862–1962. In 1971 word hy senior lektor in die departement ekklesiologie (kerkgeskie­denis*) op Stellenbosch. Van 1975 tot 1989 dien hy as hoogleraar in die kerkgeskiedenis en kerkreg* aan die Fakulteit Teologie (NG Kerk*) van die Universiteit van Preto­ria. Sy grootste bydrae in hierdie verband is sy omvattende en goed nagevorsde werk in vier bande oor die geskiedenis van die NG Kerk, wat as sy magnum opus beskou kan word. Daarby het hy kerkgeskiedenis vir die gewone lidmaat gepopulariseer met ’n aantal bevatlike publikasies oor figure en gebeure uit die kerkgeskiedenis, onder andere Beroerders en beroeringe (1975), Karakters uit ons kerklike verlede (1976) en Spore op die kerklike werf (1982).

Van der Watt was dekaan van die teologiese fakulteit, studentedekaan van die universiteit en moderator* van die Noord-Transvaalse sinode. Hy was bekend vir sy betrokkenheid by Tukkies se rugbyklub en die Noord-Transvaalse rugbyunie (Blou Bulle).

 

Sidebar