VAN DER WESTHUIJZEN, JACOBUS (KOBUS)

VAN DER WESTHUIJZEN, JACOBUS (KOBUS) (1932–) wys as hoofseun van die Hoërskool Jan van Riebeeck sy natuurlike leierskap en ontvang die prys vir leierskap van die Reddingsdaadbond. Gedurende 1950–1956 studeer hy teologie* aan die Universiteit van Stellenbosch, en word gekies as voorsitter van die studenteraad. Hy bedien agtereenvolgens die NG Kerk*-ge­meen­tes Paterson, Cradock-Oos en vanaf 1967 vir 30 jaar Kaapstad, Groote Kerk. Hy is intens lief vir sy taal en het oor die vermoë beskik om dit sui­wer en verstaanbaar te gebruik. Dit kom duidelik na vore in sy prediking, die boeke wat hy skryf, sy optredes en sy oordenkings oor baie dekades in Landbouweekblad. Op kerklike vergaderings was hy bekend vir sy goed gemotiveerde voorstelle. In moeilike en sensitiewe sake is sy goeie oordeel vertrou, maar hy het dit nie buite die gebaande weë gewaag nie. Hy word verkies as voorsitter van die Algemene Sinode se jeugkommissie, moderator* van die Wes-en-Suid-Kaapse sinode en assessor (ondervoorsitter) van die Algemene Sinode van 1994, die “Sinode van Versoening”*. Van der Westhuijzen het jare lank as lid van die direksie van NG Kerk-uitgewers gedien, en was later die voorsitter van die direksie van Lux Verbi sowel as van die Helpmekaarfonds wat studielenings aan verdienstelike student beskikbaar stel.

 

Sidebar