VAN DER WESTHUIZEN, GERT JOHANNES

VAN DER WESTHUIZEN, GERT JOHANNES (1917–1982) se roeping om die Here* te dien, lei hom om in 1945 diens te aanvaar by Daisyfield, die kerkskool in Gwelo, Suid-Rhodesië (tans Zimbabwe). In 1947 word hy aangestel as jeugorganiseerder van die NG Kerk* van Transvaal. Van toe af was Van der Westhuizen die kerk se “jeugman”. Hy het ’n leidende rol gespeel met die stigting van die Kerkjeugvereniging (KJV) in 1951, het gedien as jeugorganiseer­der van die Sinode van Noord-Transvaal (1958–1961), was algemene sekretaris van die KJV (1962–1974) en (uitvoerende) skriba van die algemene jeugkommissie van die NG Kerk (1975–1977) – die enigste nie-predikant wat dié pos beklee het. Deur al hierdie jare werk “oom Gert” mee aan die vestiging van die NG Kerk se jeugbeleid en jeugpraktyk. Hy strewe daarna, en slaag daarin, om die jeug kerkbewus te maak en die kerk jeugbewus. Hy het baie tyd ge­maak om te hoor wat die jeug én die domi­nees se verwagtings is. Hy dien vanaf 1961 as redakteur van Ons Jeug en reël in ’n bloeityd onder die kerk se jeug vier kongresse wat deur duisende jongmense bygewoon is. In sy dienswerk is hy getrou ondersteun deur sy vrou, “tannie Dora”, wat ook vir jare as sekretaresse van die Vroue­diens opgetree het.

Sidebar