VAN DER WESTHUIZEN, HERCULES PIETER (PIETER)

VAN DER WESTHUIZEN, Hercu­les PIETER (PIETER) (1931–) is ’n gebore Vrystater. Hy het reeds op vyfjarige ouderdom onder leiding van sy ma begin om klavier te speel, op Wepe­ner en Bloem­fontein skoolgegaan en aan die Universiteit van Stellenbosch (US) in die musiek studeer (veral orrel en klavier). Nadat hy ’n paar jaar lank skoolgehou het, was hy van 1965 af dosent aan die US. Hy presteer as koorleier met jeugkore, massakore en operakore. Hy het Bellville se Koorvereniging gestig wat saam met die Kaapstadse Stadsorkes opgetree het. Hy het die Stellenbosse Koor­ver­eniging gestig wat saam met die KRUIK-orkes onder meer oratoriums en Hubert du Plessis* se Slamse Beelde uitgevoer het. Die kerkkoor van die NG gemeente Stellen­bosch-Sentraal het onder sy leiding tot een van die artistiek-sterkste kore in Suid-Afrika ontwikkel. Pieter van der Westhuizen het wyd bekend geword vir die groot aantal koorwerke wat hy in Afrikaans* geskryf het, vir sy toonsetting van FAK-liedjies, en vir die buitengewone bydrae wat hy gelewer het in die totstandkoming van die 1978-Psalm- en Ge­sange­boek van die NG Kerk*. Die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek is in 2018 aan hom toegeken.

 

Sidebar