VAN DER WESTHUIZEN, MICHIEL JOHANNES

VAN DER WESTHUIZEN, MICHIEL JOHANNES (1889–1966) is in 1912 aan die Stellenbosse Kweekskool gelegitimeer. Hy promoveer in 1916 in Nederland, was daarna predikant van Noorder-Paarl, en vir ’n rekordtydperk van 21 jaar (1938–1959) redakteur van Die Kerkbode*. Van der Westhuizen het deur die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog* aan ’n politiek-verskeurde kerklike gemeenskap rustige leiding gegee. Hy het met sy blad op die spoor van die heersende kerklike opinie gebly en selde of ooit afwykende standpunte ingeneem. Toe al hoe meer probeer is om aan die beleid van apartheid* ’n Skriftuurlike regverdiging te gee, het Die Kerkbode eer­der saamgepraat as om kritiek uit te spreek. In 1949 het Die Kerkbode met Van der West­huizen as redakteur sy eerste honderd jaar feestelik gevier.

Van der Westhuizen het redakteur geword ná die verdelende Du Plessis-saak* en hom daarop toegelê om nie die fout van “kantkiesery” wat Die Kerkbode toe sou gemaak het, te herhaal nie. “Die gevaar van Van der Westhuizen se beleid was dat hy nie self krities kon of wou wees oor die alge­meen-aanvaarde volksteologie nie” (André Olivier).

Sidebar