VAN DYK, ALEXANDER STADION (DION)

VAN DYK, ALEXANDER STADION (DION) (1950–) begin sy bediening in 1976 in die NG Sendingkerk* op Stellenbosch. In 1981 word hy beroep na die NG Kerk*-gemeente Gatooma (later Kadoma) in Zimbabwe, waar hy tot 2005 ook Kwekwe, Chegutu, Chipinge, Mutare, Rusape, Chinoyi, Karoi, Mhangura en Kariba (in verskillende kombinasies) bedien. In 1983 word Van Dyk moderator* van die Sinode* van Midde-Afrika, in watter hoedanigheid hy tot 2003 een van die langs dienende lede word in die breë moderatuur en later die algemene sinodale kommissie van die NG Kerk*. Onder sy leiding beywer die NG Kerk in Zimbabwe hom vir versoening*, sluit aan by die Zimbabwiese Raad van Kerke, bou bande met swart susterskerke en mobili­seer gemeentes* om betrokke te raak in die gemeenskap. Toe plaasbesettings in 2001 begin, speel Van Dyk ’n sleutelrol om die toestand in Zimbabwiese gemeentes aan die kerk in Suid-Afrika bekend te stel en Suid-Afrikaanse steun te mobiliseer en te bestuur. Weens die uitstroming van lidmate word die Sinode van Midde-Afrika onder sy leiding ontbind en as ring by die Sinode van Noord-Transvaal ingeskakel. Hy help in dié tyd om gemoedere kalm te hou in baie plofbare situasies. In 2005 keer hy terug na Suid-Afrika waar hy sy bediening voortsit in die gemeente Skuilkrans, Pretoria.

 

Sidebar