VAN HEYNINGEN, PETRUS ARNOL­DUS CONRADUS

VAN HEYNINGEN, PETRUS ARNOL­DUS CONRADUS (1833–1904), ’n pre­dikant* van die Hervormde Kerk in Ne­derland, is in 1859 as leraar van Lydenburg bevestig. Hier is hy vasgevang in die storm­agtige Transvaalse kerklike verhouding tussen die NG Kerk* en die Nederduitsch Hervormde Kerk*. Laas­genoemde, onder leiding van ds Dirk van der Hoff*, het enige kerklike verband met die Kaapse NG Kerk ongedaan gemaak, terwyl die gemeente* Lydenburg formeel die Kaapse sinode* om sodanige verband versoek het. Toe die volksraad daarna die af­vallige gemeente met geldboetes straf, het die Lydenburgers op langelaas ook staat­kundig van die Zuid-Afrikaansche Repu­bliek afgeskei. Van Heyningen het sy lidmate meermale die harnas in gejaag deur verskeie onsuksesvolle pogings aan te wend om die gemeente by die NH Kerk in te skakel, maar mettertyd voel hy hom al hoe meer tuis in die NG Kerk.

Hy neem ’n beroep aan na die gemeente Kroonstad en later Winburg en geniet hoë agting terwyl hy ook sterk leiding neem in die wyer kerkverband – as assessor (ondervoorsitter) (1879–1880) en in 1881 as moderator* van die Vry­staatse Sinode*. Hy speel ’n betekenisvolle rol in onderwyssake en lewer vir die volks­raad op aanvraag ’n “Reglement op het onderwijs in den Vrijstaat” wat uiteindelik sou dien as grondslag vir Vrystaatse onderwyswetgewing.

Vir verdere lees: MJ Swart 1968. “Van Heyningen, Petrus Arnoldus Conradus”, Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 1, Pretoria: RGN. PB van der Watt 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834–1866, Pretoria: NGKB.

Sidebar