VAN HOUTEN, RICHARD L

VAN HOUTEN, RICHARD L (1946–) was van 1989 tot 2010 die algemene sekretaris van die Gereformeerde Eku­meniese Raad (GER)*, in Grand Rapids, Michigan, VSA. In 2010 het die GER opgegaan in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke*. Van Houten is ’n kenner op die gebied van wêreldgodsdienste en Chinese kultuur. Hy behaal sy doktorsgraad in Chinese filosofie en godsdienste aan die Universiteit van Brits-Columbia in 1981. Hy was direkteur van die Chinese Church Research Centre in Hong Kong (1982–1987), en het die GER se leierskap oorgeneem in ’n tyd toe die lidmaatskap van dié organisasie aan die daal was – 38 lidkerke in 1980 tot 26 in 1994. Hy stuur die GER deur stormagtige debatte oor apartheid* (in Suid-Afrika) en homoseksualiteit* (in Nederland). Onder sy leiding groei lidmaatskap weer tot 39 lidkerke in 2006. Van Houten se sterk punt is om die kern in komplekse situasies raak te sien en te verwoord. Dit, tesame met sy aanpasbaarheid in verskeie kruis-kulturele situasies, sy skryf- en kommunika­sievaardighede, kollegiale leierskapstyl, en ’n goeie verstaan van geld en begrotings, het van Van Houten ’n ideale ekumeniese* leier gemaak.

Sidebar