VAN IMHOFF, GUSTAAF WILLEM BARON

VAN IMHOFF, GUSTAAF WILLEM BARON (1705–1750) was ’n VOC*-amptenaar wat in 1736 goewerneur van Ceylon (tans Sri Lanka) geword het. Tydens sy verblyf daar beywer hy hom vir die uitbreiding van die Christelike geloof* onder die inheemse bevolking. Sy ywer om inheemse gelowiges as predikante* in Nederland te laat oplei en om die Bybel* in Singalees te laat vertaal, stuit egter op die onwilligheid van die Here XVII.

Toe hy in 1743 as goewerneur-generaal van Nederland na Batavia onderweg was, bly hy vir ’n maand as kommissaris aan die Kaap en gee weer eens aandag aan gods­diens. Hy spreek veral kommer uit oor die geestelike onverskilligheid van die inwo­ners van die buitedistrikte, maar besef dat ’n belangrike oorsaak was dat die kerke op Stellenbosch en Drakenstein te ver van die binnelandse lidmate verwyder was. Hy het gevolglik aanbeveel dat twee bykomende gemeentes gestig word. Dit lei in 1743 en 1745 onderskeidelik tot die stigting van die gemeentes Swartland (die latere Malmes­bury) en Roodezand (Tulbagh), wat hierna deur ’n predikant en sieketrooster* bedien is. Daar is hierbenewens ’n sieketrooster by Grootvadersbosch in die Overberg geplaas.

Vir verdere lees: AJ Böeseken 1944. “Die Nederlandse kommissarisse en die 18de eeuse samelewing aan die Kaap” in: Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskie­de­nis. Kaapstad, Staatsdrukker.

Sidebar