VAN JAARSVELD, FLORIS ALBERTUS

VAN JAARSVELD, FLORIS ALBERTUS (1922–1995) het in die distrik Heidel­berg (Gauteng) opgegroei en vroeg reeds ’n voorliefde vir die natuur en die geskiedenis van die Afrikaners* ontwikkel. Ná ’n suksesvolle studieloopbaan aan die Onder­wyskollege van Pretoria en die Universiteit van Pretoria, behaal hy in 1950 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Groningen. Van Jaarsveld gee onderwys totdat hy met sy toetrede tot die akademie groot opgang maak met sy besondere produktiwiteit. Hy herinterpreteer veral aspekte van die Groot Trek* en die Transvaalse pioniersgeskiedenis en open nuwe plaaslike studieterreine soos stedelike geskiedenis en die Europese historiografie. Hy was die eerste professor in geskiedenis aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit waar hy belangrike vernuwing in die onderrig van die vak gebring en spannavorsingsprojekte aange­pak het. Hy het in 1973 na die Universiteit van Pretoria teruggekeer.

Van Jaarsveld was ’n skerp kritikus oor wanopvattings in die Suid-Afrikaanse ge­skie­denis en het as vormgewer van ’n Afrikaanse* historiese bewussyn opgetree. Hy het herinnerings in die volksgeheue oor heroïese gebeure in die verlede, soos by Bloedrivier*, uitgedaag. Van Jaarsveld het meermale sterk uitsprake gemaak waaroor hy later spyt was en regstellings gemaak het. Met sy wye belangstellingsveld was hy ook kunskenner en versamelaar, benewens amateur-sterrekundige, -plantkundige en -paleontoloog

Sidebar