VAN LIER, HELPERUS RITZEMA

VAN LIER, HELPERUS RITZEMA (1764–1793) is in Holland gebore. Hy was ’n briljante student wat reeds op 18-jarige ouderdom ’n doktorsgraad in wysbegeerte behaal het. Ná die skielike dood van sy verloofde, het hy hartgrondig tot bekering* gekom. Hy het ’n beroep as dominee Kaap toe aanvaar. Hy was skaars 22 jaar oud, maar het met sy vroomheid en sy besielende preke ’n groot invloed op sy gemeentelede uitgeoefen. Hy het hom baie bekommer oor die verwaarloosde toestand van die Khoekhoen*-mense én die slawe* aan die Kaap, en het oral waar hy gekom het, mense aangemoedig om hulle sending­*roeping ernstig op te neem. Niemand, was sy boodskap, maak nie saak hoe “on­kundig, vervalle of barbaars” hy of sy mag wees, mag van die verkondiging van die evangelie* uitgesluit word nie. Hy het om hom ’n groep medewerkers versamel, onder wie die weduwee Machteld Smith* (een van Van Lier se prominente bekeerlinge) wat die voortou met talle sendinginisiatiewe in die Kaap en omstreke geneem het. Die Bid- en Werkgroep wat onder sy leiding tot stand gekom het, het die fondament gelê vir die Suid-Afrikaanse Sending­ge­nootskap wat enkele jare ná sy dood aan die Kaap gestig sou word. Ses jaar ná sy aankoms is hy op 28-jarige leeftyd oorlede.

Vir verdere lees: TN Hanekom 1959. Helperus Ritzema van Lier: Die lewensverhaal van ’n Kaapse predikant uit die 18de eeu. Kaapstad: NGKU. Dionne Crafford 1982. Aan God die dank, deel 1, Pretoria: NGKB.

Sidebar