VAN NIEKERK, MARLENE

VAN NIEKERK, MARLENE (1954–), akademikus, digter en bekroonde skrywer, het veral met twee romans – Triomf (1994) en Agaat (2004) – naam gemaak. Triomf vertel die verhaal van ’n versukkelde Afrika­ner*-stadsgesin wat in die apartheidstyd in Triomf woon, wit woonbuurt wat op die fondamente van die swart Sophiatown gebou is. Van Niekerk draai nie doekies om haar woorde nie, en die ellendige verhaal van armoede* en rassisme* en agterlikheid word briljant en ontstellend vertel. Agaat is ’n plaasroman, maar baie anders as vroeëre plaasromans in Afrikaans*. Ook hier speel rassisme onder Afrikaners ’n groot (soms eensydige) rol en word die ne­dergang van apartheid* in die lewe van vier karakters voltrek. Agaat is die “geskiedenis” van die Afrikaners tydens apartheid, ’n tydperk toe die predikante* kon “bid vir die nuwe leiers wat die volk moet lei na dr Verwoerd* so wreed van ons weggeneem is deur die magte van die duisternis”. Weer eens is Van Niekerk briljant aan die werk en verskuif sy die perspektief telkens om haar verhaal end-uit boeiend te vertel. Agaat is milder as Triomf, in die Afrikaanse letterkunde ’n meesterstuk, en is in 2007 met die Hertzogprys vir Prosa bekroon. Van Niekerk stel die dwaashede van die verlede in haar romans bladsy vir bladsy aan die kaak: ons godsdiens, ons politiek, ons kerk, “ons mense” loop almal in mindere of meer­dere mate deur. Hier en daar flikker tog ook hoop. Self sê sy oor haar skryfkuns: “Die skep van ‘n fiktiewe wêreld het miskien te doen met angs, met die skrik vir die hoek van jou huis wat is soos dit is. Dis ’n soort ontvlugting om ’n denkbeeldige wêreld vir jou te verbeel waar jy die reëls maak, die bedpan mooi opstel onder ’n spierwit handdoekie vir die apokaliptiese oomblik …”

Van Niekerk se eerste digbundel, Groenstaar, verskyn in 1984, haar tweede, Kaar, dertig jaar later (2014). Vir Kaar ontvang sy die Hertzogprys, die Universiteit van Johannesburg se prys vir Beste Skeppende Skryfwerk en die Elisabeth Eybers-prys vir Digkuns. In 2015 is Van Niekerk dosent in Kreatiewe Skryfkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

 

Sidebar