VAN OOSTERZEE, JOHANNES JA­CO­BUS

VAN OOSTERZEE, JOHANNES JA­CO­BUS (1817–1882) was agtereenvolgens predikant* van die Nederlandse Hervormde gemeentes van Eemnes (1841), Alkmaar (1843) en Rotterdam (1844). Vanaf 1863 was hy hoogleraar in die teologie* te Utrecht, aanvanklik met leeropdrag Christelike dogmatiek* en Bybelse en praktiese teologie*, later met leeropdrag Nuwe Testament*, dogmageskiedenis en godsdienswysbegeerte. Hy het saam met sy vriend en medestander JI Doedes van 1845 tot 1857 die Jaarboeken voor wetenschappelijke theologie geredigeer. Van Oosterzee het die gematigde, etiese ortodoksie* verteenwoordig. Hy was veral bekend as homileet (preekkundige) en apologeet (Kyk by: Apologetiek) en het die Christelike geloof* op drie fronte verdedig: 1. teen die materialisme; 2. teen die wysgerige empirisme van CW Op­zoomer, en 3. teen die moderne teologie van JH Scholten. Aanvanklik het Van Oosterzee onder die invloed van Schleier­macher* gestaan, en was die gewete vir hom die finale norm vir die apologetiek. Later – ná ’n polemiek met Opzoomer – was die heilsfeite soos geopenbaar in die Skrif* en vasgestel deur die historiese kritiek vir hom die uiteindelike norm. Bekend is ook sy langdurige vriendskap met die Nederlandse romansier ALG Bosboom-Toussaint. Van sy werke is in sewe tale vertaal.

Vir verdere lees: JJ van Oosterzee 1875, 1876. Christelijke Dogmatiek: Een handboek voor academisch onderwijs en eigen oefening (twee dele). Utrecht: Kemink. JJ van Oosterzee 1882. Wijsbegeerte van den Godsdienst. Utrecht: Kemink. M van Rhijn 1940. Gemeenschap en vereenzaming: Een studie over JJ van Oosterzee. Amsterdam: HJ Paris.

Sidebar