VAN REENEN, RYKIE VAN DER BYL

VAN REENEN, RYKIE VAN DER BYL (1923–2004) het as joernalis en skrywer groot be­kendheid verwerf – en Hermann Giliomee noem haar in sy boek The Afrikaners (2003) “undoubtedly the most outstanding Afrikaans journalist of the 20th century”. Van Reenen het by Die Burger, Die Beeld (die destydse Sondagkoerant) en Rapport gewerk, en was in ’n stadium adjunk- en waarnemende redakteur van Rapport – tot toe die hoogste posisie wat ’n vrou in die Afrikaanse perswese beklee het. Haar rubriekartikels in Rapport, “Op die Rand­akker”, waarvan sommige in ’n bundel met dieselfde titel byeengebring is (1980), toon ’n uitstekende beheer oor en fyn aanvoe­ling vir Afrikaans*. Sy het ook ’n pryswennende boek oor die lewe van Emily Hobhouse* gepubliseer. Van Reenen het lank as die kerklike verslaggewer van Na­sionale Pers se koerante opgetree, en haar laat ken as ’n skerpsinnige waarnemer van kerklike stromings wat haar onbeskroomd aan die kant van geregtigheid* geskaar het, en nie altyd ewe gewild by kerklui was nie. In haar joernalistieke loopbaan het sy onderhoude met uiteenlopende persoonlikhede gevoer – van Hendrik Verwoerd* tot Steve Biko* – en telkens met ’n vars nuwe siening oor die betrokkene tevoor­skyn gekom. As “dissident”* ’n erenaam is, was Van Reenen dit in die Afrikaanse joernalistiek.                                          

Vir verdere lees: Lizette Rabe 2011. Rykie, ’n lewe met woorde. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar