VAN RENEN-FOURIE, ADRI-LOUISE

VAN RENEN-FOURIE, ADRI-LOUISE (1964-2014) het as Karookind op Fraserburg grootgeword, aan die Universiteit van Stellenbosch ‘n graad in huishoudkunde behaal en daarna ‘n honneursgraad in joernalistiek. Nadat sy ‘n paar jaar by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gewerk het, is sy in die redaksie van Die Kerkbode* (later net Kerkbode), amptelike koerant van die NG Kerk*, aangestel. Sy is mettertyd bevorder tot redaksiebestuurder, en toe Die Voorligter* (later LiG) van Pretoria na die Kerkbode se kantoor in Kaapstad geskuif het, het sy ook adjunkredakteur van hierdie gesinstydskrif geword. In 2005 word sy redakteur van LiG en in 2011 ook van Kerkbode – die eerste vrou en slegs die tweede nie-predikant wat dit in die bestaan van die 162 jaar-oue blad kon regkry. Adri-Louise het hard gewerk om LiG nie net in gemeentes en aan intekenare beskikbaar te stel nie, maar ook op winkelrakke – ‘n ideaal wat mettertyd verwesenlik is toe kettingwinkels LiG ook op hulle rakke ten toon gestel en te koop aangebied het. En aan die Kerkbode, ‘n blad waarin dikwels ernstige kerklike en teologiese debatte gevoer word, het sy ‘n menslike gesig gegee deur ook die verhale van gelowiges-onderweg te vertel. Sy het daarin geslaag om die vertroue van haar lesers te wen en te behou ten spyte van spanning oor verskeie kerk- en landsake.
Haar onverwagte ernstige siekte, wat gediagnoseer is kort nadat sy aan Danny Fourie verloof geraak het, was ‘n groot skok vir haar familie en vriende. Die wyse waarop sy die ongelyke geveg teen gevorderde kanker aangeknoop en in die loop van twee jaar met mening gevoer het, het landwyd mense se verbeelding aangegryp. Vir baie het sy moed gegee en inspirasie gebring. In Augustus 2013 het Adri-Louise ‘n vervroegde aftrede aanvaar. Sy en haar man, Danny Fourie, het daarna enkele reise onderneem en heelwat meer beplan, toe haar gesondheidstoestand skerp verswak het. Sy is op Sondag 15 Junie 2014 oorlede. Drie weke voor haar dood het die Andrew Murray-prysfonds* ‘n spesiale toekenning aan haar gemaak vir haar voortreflike bydrae tot die kerklike joernalistiek.
Vir verdere lees: Danny Fourie 2016. “Vir ewig en altyd saam”. Kaapstad: Lux Verbi

 

Sidebar